Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 07 Oktober 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai 'n nuusbulletin uit elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutel van Frans Jonker, ZS6ANI, op 23 Augustus 2012 stil geraak het.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

PETER LAKE, ZL2AZ, AANGESTEL AS VOORSITTER VAN IARU STREEK 3

NUWE MINISTER VIR DIE DEPARTEMENT WETENSKAP EN TEGNOLOGIE

RADIO-AMATEURS MOET BYDRA TOT SUID-AFRIKA SE KUNDIGHEIDSEKONOMIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

PETER LAKE, ZL2AZ, AANGESTEL AS VOORSITTER VAN IARU STREEK 3

Die direkteure in Streek 3 van die IARU het besluit om Peter Lake, ZS2AZ, van Wellington, Nieu-Zeeland, as die Voorsitter van Streek 3 aan te stel. Hy vervang Michael Owen, VK3KI, wat onverwags verlede maand oorlede is. Michael was Streek 3 voorsitter sedert 2006 en was ook die voorsitter van die Australiese amateurradiovereniging, WIA. Peter Lake het gesê dat hy baie dankbaar is vir sy mededirekteure se ondersteuning in hierdie moeilike tyd en ook vir Streek 3 se sekretaris, Ken Yamamoto, JA1CJP, se werk om die formaliteite af te handel. Hy het ook verklaar dat hy sy bes sal doen om die take wat deur Michael aangevoor is, en ook ander werk in proses, verder te voer. In die toespraak het hy ook verklaar dat dit vir hom ‘n voorreg is om die ledeverenigings en medeamateurs in Streek 3 te dien.

NUWE MINISTER VIR DIE DEPARTEMENT WETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Derek Hanekom is aangestel as die nuwe Minister van Wetenskap en Tegnologie, na die aanstelling van Naledi Pandor as Minister van Binnelandse Sake. Derek het nou ‘n groot paar skoene om vol te staan aangesien Naledi Pandor uitgeblink het in die portefeulje; sy het byvoorbeeld 75% van die SKA vir Suid-Afrika ingepalm. Sy het wetenskap en tegnologie hier op die hoofweg geplaas en ‘n kundigheidsekonomie vir Suid-Afrika met ywer bevorder. Sy was ‘n passievolle spreker op menige tegnologie-verwante geleenthede. Sy sal ongetwyfeld gemis word in die Departement Wetenskap en Tegnologie. As adjunk-minister was Derek Hanekom by menige projekte agter die skerms betrokke en het onlangs gasheer gespeel vir verskeie inligtingsessies oor die SKA.

Ons wens albei ministers sukses toe in hulle portefeuljes.

VERANDERINGE IN DIE SARL-RAAD

Die SARL het Gideon Jannasch op die Raad gekoöpteer om die portefeulje van RAE-bestuurder te behartig. Ander veranderinge is dat die BHF/UHF-portefeulje verskuif het vanaf Riaan Greeff, ZS4PR, na Frik Wolff, ZS6FZ. Riaan behou die Tesourierportefeulje. Die Raad het die verandering aangebring om die werklas beter te hanteer.

NUWE E-POSADRES VIR RAE-SAKE

‘n Nuwe RAE-posbus is opgestel om the inligtingsvloei te bespoedig. In vervolg moet RAE-navrae gerig word aan rae@sarl.org.za. Kandidate moet die korrespondensie wat aan hulle gestuur is, sorgvuldig lees aangesien dit krities belangrike inligting bevat. Kandidate wat nog dokumente uitstaande het, moet dit so spoedig moontlik aanstuur na rae@sarl.org.za.

RTA CD en SDR-BOUSTELE

'n Klein aantal van die RTA CD en SDR eksperimentele boustelle is beskikbaar vir persone wat nie die RTA bygewoon het nie. Besonderhede kan gesien word by www.sarl.org.za, klik op RTA in die linkerhandse kolom op die tuisblad.

A pakket wat die boustel en die CD bevat is beskikbaar teen R140 plus R30 verpakking en posgeld. Die CD alleen is beskikbaar teen R100 plus R20 verpakking en posgeld. Hierdie pryse is vir SARL-lede. Nie-lede betaal ‘n bykomende premie. Slegs bestellings op die bestelvorm en vooruitbetaal deur middel van ‘n bankoordrag, kan aanvaar word. Kontroleer voorraadvlakke op die RTA webwerf voor bestelling.

RADIO-AMATEURS MOET BYDRA TOT SUID-AFRIKA SE KUNDIGHEIDSEKONOMIE

In sy beleidsrede by die vier RTA’s, het die SARL se President gesê dat radioamateurs moet bydra tot Suid-Afrika se pogings om vir die land ‘n kundigheidsekonomie te bou. Hy stel dit dat navorsing en ontwikkeling die groei van kundigheidsintensiewe aktiwiteite bevorder. Daar is ‘n duidelike verband tussen die intensiteit van navorsing en ontwikkeling en kompeterendheid. Een van Suid-Afrika se doelwitte is om die land se kundigheidsontwikkelingskapasiteit te verhoog, sodat wêreldklasnavorsing gedoen kan word en gevorderde ontdekkings omgesit kan word in innoverende produkte en prosesse.

“Ek glo dat ons ‘n bydrae kan maak. amateurradio is geseën met deel van die radiospektrum wat groter is as wat baie beleidmakers glo, geregverdig is. Daarteenoor moet opgeweeg word die geskiedenis van die aanvoring van nuwe ontwikkelings deur radioamateurs. Ons moet voortbou op ons passie om te eksperimenteer en ontwikkel.”

“Blootstelling aan amateurradio het al baie jongmense aangevuur om met loopbane in die tegnologiese nywerhede te begin. Baie van hulle het uitgeblink en groot bydraes gelewer. Ek dink byvoorbeeld aan Jack Kirby wat die 2000 Nobelprys gewen het vir die ontwikkeling van die mikrobaan. ‘n Ander Nobelpryswenner wat sy loopbaan ontwikkel het uit ‘n belangstelling in amateurradio, is Joe Taylor, K1JT. Hy het saam met Russel Hulse die 1993 Nobelprys in fisika verower vir die ontdekking van ‘n nuwe tipe pulsar, ‘n ontdekking wat nuwe moontlikhede vir die studie van gravitasie blootgelê het.”

“Jy mag nou vra, maar hoe kan ek bydra” het Rassie gesê. ‘Ek is nie ‘n Joe Taylor nie’. Ja, maar Joe Taylor was ook nie wat Joe Taylor vandag is nie. Dit was sy belangstelling in nuwe dinge, nuwe idees wat hom gemaak het wat hy vandag is. Radioamateurs eksperimenteer baie, maar hulle het ‘n groot probleem; hulle is traag om hulle resultate te deel deur middel van praatjies by klubvergaderings of deur artikels in Radio ZS of ander tegniese publikasies.”

Rassie het baie interessante projekte geskets waarmee amateurs ‘n groot bydrae kan maak. Jy kan die teks van sy aanbieding aflaai van die SARL se webwerf deur RTA te kies in die linkerkolom.

VRYWILLIGERS VIR DIE SARL SE NUUSSPAN

Die SARL-Nuusspan ondervind 'n ernstige tekort aan bulletinsamestellers. Hierdie nuusitem is 'n versoek vir vrywilligers om hulle dienste aan te bied om die bulletinstelsel aan die gang te hou. Die werk van die bulletinsamesteller is om nuusitems wat hy/sy van die webwerf af ontvang, saam te stel in 'n bulletin en dan die bulletin in Afrikaans te vertaal. (Die vertaling is verreweg die mees tydrowende taak vir die samesteller). Na die samestelling en vertaling word die bulletins per e-pos na die Nuusredakteur gestuur.

Bulletinsamestellers moet SARL-lede wees, tweetalig en met basiese rekenaar- en redigeringsvaardighede en moet 'n e-posadres hê. Elkeen neem verantwoordelikheid vir die bulletins vir twee maande uit elke jaar.

Indien u dalk die nodige vaardighede het en bereid is om die taak te probeer, stuur asseblief u naam en kontakbesonderhede aan Fritz, ZS6SF, met e-posadres secretary@sarl.org.za voor Maandag 15 Oktober. Sonder genoeg vrywilligers, kan die Afrikaanse bulletin nie volgehou word nie.

KLUBNUUS

Die Algemene Jaarvergadering van die Oos-Rand Amateurraddioklub is op 29 September gehou en lede is as volg tot die klub se komitee verkies:

1. Voorsitter - Marc d'Hotman de Villiers, ZS6MDH
2. Visevoorsitter - Ben Fourie, ZS6BEN
3. Sekretaris - Elize Findt, ZS6JDY
4. Tesourier - Chris Gryffenberg, ZS6COG
5. Herhaleronderhouers - Hampie Findt, ZS6HJF & Chris Gryffenberg, ZS6COG
6. Snuffelmark - Francois Jacobs, ZS6COI, & Judy Pretorius, ZS6JDY
7. QSL-bestuurder - Francois Reyneke, ZS6FDX
8. Nuusbrief - Elize Findt, ZS6ECF
9. Toekenningsbestuurder - Chris Gryffenberg, ZS6COG
10. Nuusbulletins - Elize Findt, ZS6ECF
11. Webmeester - Glynn Chamberlain, ZS6GLN
12. Klubnutsman - Glynn Chamberlain, ZS6GLN
13. RAE-koördineerder = Elize Findt, ZS6ECF
14. Spesiale gebeurtenisse en projekte - Brian Mckenzie, ZS6BNM & Margolet Mckenzie, ZS6MRG
15. Klub 675 - Judy Pretorius, ZS6JDY, Glynn Chamberlain, ZS6GLN, & Elize Findt, ZS6ECF
16. HF herleidings en Net - Francois Reyneke, ZS6FDX

Baie geluk aan die verkose lede en beste wense vir die diensjaar wat voorlê.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag is. Tans is daar twee reuse sonvlekke sigbaar maar nie een van hulle is aktief besig om fakkels te produseer nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 50.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die seisoensverandering gaan 10 m openinge meer gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
09 Oktober - Erfenisdagnaelloop se logstate moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com en fwolff@global.co.za.
15 Oktober – Vrywilligers vir die nuusspan se name moet in wees na secretary@sarl.org.za.
20 Oktober - Jamboree-op-die-lug en CQ Hou Koers.

Die SARL nooi u om te luister na Amateurradio Vandag, elke Sondag oggend om 10:00 SAT op 145.750 MHz in die Pretoria-omgewing, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir 'n web Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today ", gaan na die groen kolom en klik op 'LUISTER OP DIE WEB'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die ARMI uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur deur Fritz Sutherland ZS6SF
en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.
Dankie dat u geluister het, 73

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003